Latest News

Seisoene in Kleineeproduksie
13 Apr 2018

Seisoene in Kleinveeproduksie

Outeur: Giepie Calldo, Bestuurder: Tegnies, RFID Experts Africa Vrywilliger mede-werker van PERITUM Agri  Instituut

Diere het seisoene van groei. Die sukses van kleinveeboerdery berus daarop dat kritiese bestuurspraktyke toegepas word om  effektief in die dier se voedings- en gesondheidsbehoefte vir elke groeifase te voorsien. Effektiewe voeding van die jong ooilam het ‘n direkte invloed op die latere volwasse ooi se reproduksiepotensiaal omdat eierselvorming in hierdie tyd plaasvind. Eierselvorming van speen tot eerste paring bepaal die reproduksie tempo van die ooi. ‘n Direkte verband bestaan tussen die daaglikse massatoename van die ooilam tot haar paargewig  en die effektiwiteit van eierselvorming.

Paargewig van die jongooi

Soos reeds genoem bepaal die paargewig van die jongooi haar leeftyd-reproduksietempo Konstante gewigtoename is dus belangrik. Die ideale paargewig vir goeie reproduksie en produksie moet gemiddeld tussen 48 en 51kg wees. Wanneer jongooie op 12 maande gepaar word, moet hul gewig 80% van hul volwasse gewig wees. Indien hulle op 18 maande gepaar word, moet hul gewig 94% van hul volwasse gewig wees.

Die regte paargewig verseker dat  produksiedoelwitte  behaal word, naamlik 135% speen met  4,5kg wol per teelooi (as 1,35 lammers se wolproduksie teruggewerk word na die ooi, is dit 7,6kg per kop).

‘n Ooi wat 60kg weeg se voedingsbehoeftes om 135% te speen  is sowat 870kg kos (dit sluit die lam se kos tot speen in).

Voeding van die ooilam tot paartyd is ‘n groot uitgawe wat deur die wolinkomste gedra moet word. Indien op 18maande gepaar word beloop 751 dae van die ooilam se geboortedag totdat haar lam verkoop kan word – dus is die hoeveelheid, gehalte en prys wat die wol behaal belangrik.

Die wyse produsent besef dat hoewel die uitgroei van die vroulike dier tot die ideale gewig voor paartyd ‘n groot uitgawe is, haar effektiewe eierselvorming daarna optimale reproduksie – en winste vir die boerdery sal beteken.

Versorging van die ooi 6 weke voor lam

Die lammeroes is die boer se opbrengs op sy belegging vir die afgelope seisoen. Dit is vir elke produsent van groot belang dat die ooilam met die hulp van byvoeding so goed as moontlik moet presteer.  Die tekorte in die  natuurlike hulpbronne moet dus deur byvoeding reggestel kan word om in die dier se behoeftes te voorsien en die genetiese potensiaal ten opsigte van reproduksie en produksie te benut.  Wat egter nie aldag besef word nie, is dat hierdie byvoeding reeds ses weke voor lamtyd begin- die tydperk waarin 72% van die fetusgroei, uierweefselontwikkeling en primere wolfollikelontwikkeling plaasvind tot en met geboorte. Om dus die genetiese potensiaal ten opsigte van groei en wolproduksie te benut, moet daar in hierdie belangrike tyd, in die dragtige ooi se groter voedingsbehoefte voorsien word. Voldoende fetusgroei bepaal die geboortegewig en latere liggaamsgrootte, terwyl uierweefselontwikkeling die potensiaal skep vir hoër bies- en melkproduksie, wat die geboortegewig sowel as die sekondere wolfollikelontwikkeling aanvul.

In dieselfde tyd is inenting  teen bloednier, pasteurella, bloutong, klem-in-die-kaak en ensootiese aborsie belangrik.  Spoorelementaanvullings en ontwurming (mismonsters) word ook nou gedoen.

Versorging van die ooi na lam

Gesonde bestuurspraktyke behels dat die ooi  goed versorg word in die ses weke voor paartyd; baarmoeder herstel gegun word in die drie weke na lamdag (aangesien dit die opvolgende seisoen se besetting en lampersentasie bepaal); tyd gegun word om die lam te speen (indien toestande verswak, met kruipvoeding so vroeg as op 60 dae al gespeen word) en dan ‘n rustyd van meer as 4 maande gegun word voordat weer gepaar word.  Herstel is dan goed, besetting is hoog en wolproduksie, wat tot 800g/kop meer kan wees uitstekend.

 

Voeding Behoefte- en koste-analise tydens die lam se groeiseisoene

6 weke voor lam

 

Lamtyd tot 3 weke na

Die voeding moet 68% totale verteerbare voedingstowwe (TVV) en 16% proteien wees.  Behoefte: Vierling – 95kg (@R4,50 = R427,50); Drieling – 75kg (@R4,50 = R337,50); Tweeling – 60kg (@R4,50 = R270); Eenling – 45kg (@R4,50 = R202,50)

 

6 tot 9 weke na lam

 

Kruipvoeding vanaf lamdag tot 100 dae speen (sowat 26,8kg speengewig)

Behoefte: Merinolam –  21,5kg (@R4,50 = R96,75); Vleislam – 25kg (@R4,50 = R112,50);

6 maande voor paar;

 

Na speen (volgende 42 dae)

Behoefte: Kruipkos verhoog tot 250g/dag- vir  42dae is dus 10,5kg (@R4,50 = R47,50)

Die lam tel 123g per dag op. Die lamgewig op 142 dae = 32kg (om by 51kg paargewig uit te kom, is 19kg gewigstoename nodig in die tyd)

6 weke voor paar; Jongooilek vir 18 maande paar

Behoefte:  Voeding (289dae) – 140g/dag; 42kg  voeding(@R4.50 = R189),

Die lam se daaglikse gewisgtoename is 63g; Maandtoename  is  1,95kg;

Die ooigewig na 289 dae = 50,28kg.

Instandhoudinglek tot paar (92 dae)

Behoefte:  50g/dag; totale kilogram = 4,6kg (@R4,50 = R20,70),

Ooi se gewigtoename per dag– 30g; maandtoename 1,50kg, ooigewig na 92dae = 54,88kg.

 

Jongooilek 12 maande paar:

Behoefte: Byvoeding (222dae) – 188g/dag; totale byvoeding kilogram = 42kg (@R4,50 = R189)

Gewigstoename per dag– 85g; maandtoemane – 2,6kg;  ooigewig na 222 dae = 50,9kg

(ooi is nou reg vir paar, spaar 4,6kg lek en wen een lamseisoen ekstra teenoor die 18 maande stelsel).

14 dae voor paar tot 3 weke na paar;

 

Prikkelvoeding (63 dae, 14 dae voor paar tot 3 weke nadat ram uit is)

Behoefte: 250g/dag (goeie produksielek); totale kilogram = 15,75kg (15.7 @ R4,50 = R70,78).

 

Die produksiesom indien skaap belyn met hul groeiseisoen bestuur word

Totale koste:

21,5kg @R4,50 = R96,75

10,5kg @R4,50 = R47,50

42,0kg @R4,50 = R189

4,6kg @R4,50 = R20,70

15,75kg @R4,50 = R70,50

Groottotaal: 94,35kg @R4,50 = R424,57 (vir 12 maande paar is R20,70 minder)

Inkomste:

8,4kg wol oor 751 dae @gemiddeld R101/kg = R848,40 (R1,13/dag bruto)

Koste  van byvoeding R424,57 en gesondheid R75 = R499,57.

Wins: R848,40 minus R499,57 = R348,83.

Op 751 dae word die goedversorgde ooi se 1,10 lam verkoop, dit wil se 33,1kg @R28,20 = R933,42.

 

Enrol now for the Diploma in ANIMAL PRODUCTION offered by the PERITUM AGRI INSTITUTE.  This unique Diploma in Animal Production is now presented part time through 12 study school sessions over 24 months and is endorsed by the National Red Meat Producer Organisation.

This full qualification, authorised by the South African Qualifications authority,   includes modules such as Farm Management, Agri Markets and Marketing,  Staff Management, Infrastructure Planning and Resource Management,  Livestock Production (5 modules) and Farm Finance Management.

A highly practical approach is followed in learning. The only entry requirement is a National Senior Certificate (Matric). Students are not required to participate in written examinations, but are offered the opportunity to submit a comprehensive Portfolio of Evidence for purposes of examination.

Be sure to contact  Odette  Shepperson  051-4511120.