Latest News

5 Apr 2018

Landbou-opleidingsinstituut het nuwe baadjie

By Maricelle Botha

’n Bloemfonteinse landbou-opleidingsinstituut wat reeds die afgelope 20 jaar by landbou in Afrika betrokke is, het pas ’n nuwe baadjie gekry en verwag om in die toekoms net van krag tot krag te gaan.

Die BathoPele Agri Institute, het tot op hede meer as 8 000 nuwelingboere op die vasteland opgelei en amper 1 000 bestuurders in landbou in Suid-Afrika deur hul Leadership Journeys toegerus.

Dit is met die ondersteuning van hierdie suksesse dat Peritum Agri Institute, ’n portaal tot toekomsgerigte kundigheid, toegewyd tot die Agri-sektor in Afrika, vroeër vandeesmaand sy eerste groep eerstejaarstudente verwelkom het.

Ernest Beck, een van Peritum Agri Institute se direkteure, sê die afgelope twee jaar het hulle baie tyd bestee om te dink oor die toekoms van landbou en die waarde wat dié landbou-opleidingsinstituut toevoeg om ’n wesentlike bydrae te lewer tot die volhoubaarheid van die hele landbousektor in Afrika.

“Jare lank reeds bied BathoPele wat ons glo die regte benadering tot opleiding is. Dis nou tyd om ’n reuse-sprong te maak. Ons moet verby opleiding beweeg om die sektor volhoubaar te maak.”

Hy sê by Peritum Agri Instituut hoop hulle om die toekoms deur ’n nuwe benadering tot ontwerp en innovasie te oes. “Ons help organisasies om die uitdagings van die toekoms vandag te verstaan en rus ’n nuwe parate geslag jeug toe om deur kollektiewe denke, globale dinkskrums en positiewe benadering die toekoms te bemeester.

“Ons bou voort op BathoPele se toewyding, se kundigheid in opleiding en ontwikkeling en die gevestigde verhoudings met die sektor op primêre en sekondêre vlak.”

Beck sê Peritum bring ’n benadering tot toekomsgerigte landbouoplossings deur wat hulle “The Peritum Way”  noem – ’n nuwe aanslag om onsekerheid te bemeester, een waar daar nie ’n nuwe werksmag vir môre nodig is nie, maar dieselfde mense wat vandag in die sektor werk te omskep in ’n strategiese krag, ongeag ouderdom, kwalifikasies of huidige vermoë.

Peritum Agri Institute bied ’n omvattende portaal tot kundigheid.

Beck beskryf dit as ’n plek waar inligting gedeel word, waar landbouliefhebbers en kundiges kollektief oor die toekoms besin en oplossings bedink. “Dit is ’n platform waar oud en jonk, kundiges en leke met ’n gedeelde belangstelling in landbou kan leer, deelneem, argumenteer, besin en ’n bydrae lewer.”

Hy sê hier sal ook voortdurend relevante navorsing gedoen word en resultate intyds beskikbaar gestel word. “Ons navorsing is gegrond op ’n moderne bekostigbare platform wat aan kliënte toegang tot onmiddellike datagenerasie bied.”

Beck meen Peritum is ’n organisasie waar toegewyde studente en lektore gemaklik toegang kry tot bekostigbare en gehalte- internasionale uitruilstudiegeleenthede en globale groei en probleemoplossing.

Peritum het ’n uitruilvennootskap met die Aeres-Universiteit in Nederland. Die vennootskap word binnekort formeel aangekondig sowel as verskeie SAOGSADEC- vennootskappe met universiteite in Malawi, Botswana, Namibië en Zambië. ’n Ooreenkoms met John Deere om top studente, wat deel uitmaak van die instituut se diplomaprogramme, te borg om n internasionale John Deere fabriek te besoek om sodoende beste-praktyk-blootstelling op te doen is ook in die pyplyn.

In April vind die eerste in sy soort Menslike Hulpbron-praktisynskonferensie vir professionele menslikehulpbron-kundiges in die landbou in Suid-Afrika in Bloemfontein plaas. Die fokus is om n forum te begin vir dialoog oor Die Werksmag van die toekoms.

Vir meer inligting oor die instituut besoek www.peritumagri.com.