Latest News

5 Apr 2018

‘Landbou se rol groot in ekonomie’

By Maricelle Botha

Landbou maak vandag 2,2% uit van Suid-Afrika se bruto binnelandse produk (BBP). Wanneer die (stroomop) produksieketting (insetvoorrade van kunsmis-, saad-, voer-, dier- en plantgesondheidsbedrywe) en (stroomaf) vervaardigings- en verkopeketting (voedselverwerkingsverspreiding, vervoer en berging, handelsbedrywe) bygevoeg word, kom dit naby aan 7% van die BBP, wat maak dat dit ’n groot deel van die totale ekonomie uitmaak.
So verduidelik Wandile Sihlobo, ekonoom van die landbou-organisasie Agbiz, die rol van landbou in Suid-Afrika se groter ekonomie.
Werkgeleenthede in die landbousektor het in die vierde kwartaal van 2017 met 5,5% op ’n kwartaalgrondslag tot 849 000 werkgeleenthede gestyg.
Sihlobo was onlangs die hoofspreker op die bekendstelling van die nuwe Peritum Agri Institute in Bloemfontein.
Hy meen die kwartaallikse toename was hoofsaaklik in die veldgewasse, tuinbou en lewendehawe-subsektore met die Wes-Kaap, Oos-Kaap en KwaZulu-Natal wat dit die meeste gedryf het.

Huidige toestand van landbousektor
Sihlobo sê vertroue in die sektor speel ’n beduidende rol in die landbou-BBP, maar onsekerheid oor grondhervorming en die Wes-Kaapse droogte druk swaar op vertroue in die sektor.
“Agbiz en die Industrial Development Corporation (IDC) se landbouvertrouensindeks het met 5 indekspunte tot 49 in die vierde kwartaal van 2017 gedaal. Die eerste kwartaal van 2018 se syfers sal binnekort bekend gemaak word.”
Hy sê ná ’n groeikoers van 38,7% in die tweede kwartaal van 2017, het die landbou-BBP in die derde kwartaal 44,2% kwartaal op kwartaal gegroei.
Hierdie syfers toon ’n toename in totale landbou-aktiwiteit, veral in die 2016-’17-produksieseisoen, veral van somergraan, oliesade, vrugte sowel as ’n herstel in die veebedryf.

Wat steun die sterk landbou-ekonomiese groei?
Die algehele graan- en oliesadeproduksie vir 2017 is op 19,21 miljoen ton geplaas, wat dubbel die vorige seisoen se volume is, sê Sihlobo.
“ ’n Hoër opbrengs en ’n toename in oppervlakte-aanplantings is die sleutel tot die opvallende herstel.”
In 2017 het Suid-Afrika se landbou-uitvoer die eerste keer US$10,0 miljard oorskry, met 15% jaar op jaar.
Trouens, dit is ’n rekord vir die Suid-Afrikaanse landbousektor gemeet aan die beskikbare data sedert 2001.

Wat druk swaar op landbousakevertroue?
Sihlobo sê beleidsonsekerheid en die droogte in die Wes-Kaap is van die belangrikste struikelblokke vir boere in die nabye toekoms.

Wat verwag ons van die huidige seisoen?
Volgens Sihlobo toon Suid-Afrika se 2017-’18-somergewasaanplantings ’n afname van 5% op ’n jaargrondslag tot 3,80 miljoen hektaar.
Witmielies en sorghum-aanplantings is die hoofredes vir hierdie algehele afname.
“Suid-Afrika se graan- en oliesademark kan goed voorsien in die 2018-’19-bemarkingseisoen danksy verwagtinge van relatief groot mielie- en sojaboon-oeste.”
Dit is egter belangrik om te onthou dat die eerste produksieskattings is, wat beteken dat daar in die komende maande veranderinge kan wees.
Maar dit sal waarskynlik op die voorgrond wees, gegewe die gunstige¬ weerstoestande van vandeesmaand (Maart) en April 2018, sê Sihlobo.

Wat beteken dit vir SA se voedselinflasie?
Hy sê in Januarie 2018 het voedselinflasie verder 4,5% jaar op jaar verlangsaam, wat die laagste vlakke in meer as twee jaar is.
Na wat verwag kan word, sal Suid-Afrika se voedselinflasie ’n gemiddeld van 5,2% bereik met die piek êrens rondom September 2018 (die effek van BTW is nog nie bereken nie). Dit kom nadat beesvleisaktiwiteite in Desember 2017 met 10% maand op maand tot 262 727 bees per kop gestyg het.
Sihlobo sê terwyl oeste na verwagting marginaal sal krimp, sal die vooruitsigte op voedselinflasie nie op kort tot mediumtermyn aansienlik verander nie vanweë die groot opbrengste van die vorige seisoen (ook vir groot gewasse soos mielies is die verwagte gewasopbrengs bo die jaarlikse verbruik).
Hy voeg by dat beleidsonsekerheid op kort termyn ’n struikelblok in die landbousektor in Suid-Afrika sal bly.
“Die volgehoue droogte in die Wes-Kaap bly ’n risiko wat die prestasie van die landbou-arbeidsmarkekonomie kan ondermyn, tesame met die verwagte nasionale minimum loon wat in 2018 in werking gestel sal word (kwartaal 4 van 2017 was op 849 000 werkgeleenthede, 8% af jaar op jaar),” sê hy.