+27(0) 86 122 8467

Latest News

NMWC
2 Aug 2019

Nasionale Minimumloon Kommissie

Die Nasionale Minimumloon, oftewel NML het op 1 Januarie 2019 in werking getree nadat daar alreeds op 1 Februarie 2017 ‘n ooreenkoms oor die inwerkingstelling en vlakke van die NML bereik is.  Dit was ‘n opdraande-stryd om seker te maak dat ‘n inklusiewe proses by Nedlac gevolg word waar al die belangrike rolspelers in die Suid-Afrikaanse samelewing hul menings kon lug en help vorm aan ‘n nuwe stuk wetgewing met verreikende gevolge in sektore waar daar nie voorheen minimumlone gegeld het nie.

Die NML is R20 per uur vir alle werkers in Suid-Afrika, maar plaaswerkers (insluitend huiswerkers op plase en sekuriteitswagte op plase wie nie in diens van private sekuriteitsfirmas is nie) is ‘n spesiale toegewing toegestaan weens die kwesbaarheid van die landbousektor.  Hierdie toegewing geld vir twee jaar, en verdere aanpassings aan die NML sal deur die nuut-gestigde NML Kommissie bepaal word na afhandeling van navorsing om die impak van sodanige verhogings te bepaal.  Dit volg dan ook dat daar geen verdere sektorale minimumloon-aanpassings in Maart van elke jaar sal wees nie.  Volgens die spesiale toegewing verdien plaaswerkers dan 90% van die NML, oftewel R18 per uur, wat ‘n 9.7% verhoging is teenoor die sektorale minimumloon van R16.25 in 2018.  Neem asseblief kennis dat slegs toelaatbare aftrekkings vir behuising en kos ingevolge die sektorale vasstelling, asook statutêre aftrekkings soos werkloosheidsversekering (WVF) van die NML toegelaat sal word. Verder sal die sektorale verhogingsdatum van 1 Maart wegval:

Die NML wet maak voorsiening vir die volgende veranderinge aan die sektorale vasstelling, sonder dat die sektorale vasstelling wegval.  Dit beteken alle diensvoorwaardes soos in die plaaswerker sektorale vasstelling bepaal, bly in werking:

  1. ‘n Minimum werkdag word gespesifiseer. Werkers moet vir ‘n minimum van 4 ure vergoed word, ongeag of die volle 4 ure gewerk is.
  2. Werkers het die reg om oortredings van die NML wet na die CCMA te verwys, in ‘n spoediger proses as wat daar in die verlede was. Die voordeel vir werkgewers is die koste-besparing om so ‘n saak in die CCMA te verdedig teenoor die kostes om ‘n saak in die arbeidshof te verdedig.
  3. In gevalle waar werkgewers nie die NML kan bekostig nie sal ‘n nuwe en vaartbelynde kwytskeldingsproses gevolg word. Werkgewers kan toegang bekom by https://nmw.labour.gov.za/. Dit is baie belangrik om kennis te neem dat ‘n werkgewer wie se besigheid teen ‘n verlies bedryf word, outomaties kwytskelding sal ontvang. Indien die besigheid nie teen ‘n verlies bedryf word nie, sal die werkgewer se inkomste voor voorsiening vir waardevermindering en dividende bepaal word. Tweedens sal die werkgewer se opbrengs op bates bepaal word deur die inkomste voor voorsiening vir waardevermindering en dividende deur die laaste twee jaar se totale bates.  Indien die opbrengs op bates minder as 6% is, sal die groei of waardevermindering van bates in die laaste twee jaar bepaal word.  Indien daar waardevermindering is, sal kwytskelding toegestaan word.
  4. Kwytskelding sal toegestaan word tot 90% van die plaaswerker NML van R18 per uur, wat dan R16.20 per uur sal wees.

Verandering gaan altyd met onsekerheid gepaard.  Die tyd sal leer wat die presiese impak van die NML op werkgewers en werknemers sal wees en dit gaan belangrik wees om te bepaal of die NML in verskillende sektore gaan lei tot verhoogde werkloosheid of nie.  Verder sal dit ook interessant wees om te sien wat die impak van die NML op vakbonddigtheid in maatskappye se laagste posvlakke, waar werknemers die NML verdien, sal wees.  Logies gesproke val ‘n baie groot deel van die rede vir vakbondlidmaatskap weg as daar nie vir loon-verhogings onderhandel hoef te word nie.

Agri SA bly verbind tot die NML proses en sal aanhou maan vir balans tussen werknemers se stygende lewenskoste en die lewensvatbaarheid van landbouondernemings wat in gevaar gestel kan word deur onbeheerste stygings in lone.