Latest News

AgTech
7 Nov 2019

AgTech: Wat is dit en hoe raak dit my boerdery?

Dit is skoolvakansie en almal geniet ontbyt saam voor die dagtake voortgesit word. Oupa Piet (60) praat oor die weer en wonder wanneer die eerste somerreën gaan kom. Pa Jaco (35) haal sy foon uit, kyk vinnig deur drie toepassings (Apps) en voeg sy ingeligte opinie oor die moontlikheid van reën op grond van dag- en nagtemperatuur, windsterkte en hoëdrukstelsels wat mag inkom. Hy bespiegel of hulle genoeg vog in die grond gaan hê om te kan plant, watter digtheid hulle moet  plant en vir watter opbrengs hul moet bemes?

Terwyl Oupa Piet en Pa Jaco scenarios oorweeg kom klein JJ (7) in en voeg sy stem by terwyl hy op sy ma se foon ‘n speletjie speel en kla oor die stadige Wi-fi. “Vra vir Google Pa!”, val hy hulle redenasie in die rede,  “Ons trekker kan mos self bestuur, sê net vir hom om nie te plant waar die grond nie reg is nie”.

Verbysterd dog geïnteresseerd in JJ se bydrae tot die gesprek dwaal pa Jaco se gedagtes oor al die vrae waarop hy so graag antwoorde sal wil kry byvoorbeeld, wat gaan regtig in die grond aan? Hoeveel vog is daar? Kan ons die misrye vroeër identifiseer? Is die regte hoeveelheid chemie werklik in die spuit? Sou dit nie lekker gewees het as hy op een grafiek die laaste 10 jaar se reënval, plantdatums, -populasie, opbrengs en pryse vir sy spesifieke plaas en land kon sien nie?

Die verwysing na die trekker wat self bestuur maak Oupa Piet sommer van vooraf kwaad. Hulle het na sy mening heeltemaal te veel geld daarvoor betaal en vir wat? In sy dae het hul die voor self gemaak en kon dit net so reguit maak! En vir wat moet hy nou ekstra betaal vir ‘modules’ en ‘seine’- goed wat mens nie eens kan sien nie!  Waar gaan die wêreld heen?

Tegnologie in landbou, datawetenskap en ‘n vierde industriële rewolusie in landbou is terme wat al meer aandag in die landbousektor geniet. “AgTech” (Agricultural Technologies) beskryf innoverende tegnologieë in die landbousektor wat groei in produktiwiteit, effektiewe aanwending van natuurlike hulpbronne, en ‘n afname in ekologiese impak ondersteun. AgTech is relevant tot al die  landboubedrywe , maar ons bespreek dit voorts aan die hand van die graanbedryf.

Figuur 1 is ‘n grafiese uitbeelding van ‘n tipiese graanproduksie-lewensiklus. Elke fase van die siklus behels sekere besluite en boerdery-aktiwiteite. Tegnologie het die vermoë om besluitneming (deur sagteware) en uitvoering van die besluite (deur hardeware) tydens die siklus te bevorder.

Lewenssiklus-van-graanproduksie
Figuur 1: Lewenssiklus van graanproduksie

Die aanwending van tegnologie in die graanproduksiesiklus

‘n Tipiese produksiesiklus beweeg deur sewe produksiefases. Die tabel hieronder bespreek die aanwending van Agri Tegnologie (of AGTech) in elkeen van die fases.

Produksiesiklus Aktiwiteit tydens hierdie fase van die siklus Aanwending van AGTech
FASE 1

Produkiebeplanning

Beplanning word gedoen van watter gewasse die komende seisoen aangeplant gaan word gebasseer op die historiese produksiedata sowel as markaanwysings.  Die volgende inligting is waardevol in die beplanningsproses:

– Geskiedkundige grondkaarte met data

– Weerinligting (geskiedkundige sowel as voorspellings)

– Ekonomiese verwagtinge/ Mark aanwysings

– Finansiële posisie

 

‘n Omvangryke hoeveelheid toepassings is reeds beskikbaar wat aan die boer opgedatteerde markinligting, produkpryse en agri ekonomiese inligting bied. Hierdie toepassing kan op slimfone of rekenaarsafgelaai word en inligting is met die druk van ‘n knoppie beskikbaar.

Die aanwending van sagteware wat historiese en toegevoerde data kombineer om ‘n paar scenarios uit te wys wat oorweeg kan word tydens produksiebeplanning is ook nou moontlik.  Dit is gebaseer op ‘n multikriteria-wiskundige programmeringsmodel en kan die optimale landbouproduksieplan op ‘n plaas of in ‘n landbougebied bepaal deur verskillende kriteria, inaggenome ‘n stel beperkinge in bv arbeid, beskikbare kapitaal, grondprofiel, ens te kombineer tot ‘n nutsfunksie.

 

FASE 2

Uitleg van gewasse per land

Ten einde gewasse per land uit te lê moet die produsent ‘n goeie begrip sy grondtipes, grondvog (hidrologie), mikroklimaat en gronsamestelling hê. Grontonledings word gedoen alvorens die gewasse aanplanting beplan word. GIS/GPS bied ‘n ruimtelike verteenwoordiging van grondinligting en gekombineer met databasis opberging in die webruimte kan toepassings (APP’s) gebruik word om die volgende hulpmiddels te genereer (en histories op te berg vir vergelykende gebruik in die jare wat kom). Hierdie data kan ontrek word in geinterpreteerde, nuttige formaat in die vorm van :

– Grondklassifikasie kaarte

– Chemiese samestellingskaarte

– Variërende toedieningsaanbeveling van saad en kunsmis

Tegnologie is reeds beskikbaar, maar word verder verfyn, om grondontleding en klassifikasies per satelliet monitering te doen.

FASE 3

Grondvoorbereiding

Grondvoorbereiding is ‘n kritiese stap om ‘n gesonde optimale opbrengs te verseker. Oesreste moet ingewerk word, onkruid verwyder word, waar nodig moet bemesting ingewerk word en ‘n gelyke saadbed moet voorberei word.

Die grondvoorbereiding verskil per gewas. Die no-till metodiek werk goed vir mielies, maar grondbone het goeie grondbewerking nodig.

Die ontwikkeling in masjien tegnologie en elektronika het behoorlik ontplof. Outomatiese stuurstelsels wat toenemende akkuraatheid, geen oorvleueling en besparing op insetkostes te weeg bring is geredelik beskikbaar.

 

FASE 4

Plantproses

Vir elke gewas is ‘n optimale tydsgleuf vir plant relevant. Die kombinasie van grondtemperature, vog en voedingswaarde bepaal uiteindelik die opbrengs. Optimale plant vereis dat die beste kwaliteit saad, met die regte grond op die regte tyd gekombineer word. Die spasiering van saad beide in wydte en diepte het ‘n groot impak op die opbrengs. Saad opsigself is tegnologies ontwikkel tot ‘n fyn presisie.

Saadhibriede tegnologie pas die saad aan om in die tipiese grond en klimaat beter te presteer. Saadbehandeling is moontlik om die saad te weerstandigheid te verhoog; terwyl saadmikrobe tegnologie verseker dat die saad minder voedingstowwe benodig om optimaal te presteer.

Tydens die plantproses is tegnologie soos outomatiese stuur en variërende toediening van saad en kunsmis algemeen bekend en word al deur baie produsente gebruik.

Toerusting se rekenaartoepassings kan ook gekoppel word met die grondkarteringsdata sodat die toerusting self die toedienings aanpas volgens die aangewese GIS/GPS toedieningspunte.

Aspekte soos satelietbeheer in die akkurate plasing van saad word ondersteun deur masjiensensors wat oorvleuling in saadplasing voorkom en eenvormigheid verhoog in die diepte en wydte plasings van saad.

FASE 5

Gewasbeskerming

Die kostes om ‘n oes in die grond te kry is so hoog dat nougesette monitering en beskerming van die oes tydens die groeifase ononderhandelbaar is. Tegnologie soos variërende toediening van topbemesting en chemie en die tydsbereking van toediening kan ondersteun word deur satelietbeelde wat die plantgesondheid kan weergee op ‘n kaart en bestuursones uitwys.

Nanosatelliet tegnologie (NDVI, TVDI en NDWI) voorsien satelietbeelde wat inligting weergee wat die blote oog nie kan sien nie. Hierdie beelde wys vog en voedingsbehoeftes uit wat tot akkurate produksiebesluite lei.

Die samevoeging van GPS en satelliettegnologie, kameras en sensors op hommeltuie gekombineer met jou slimfoon is die nuutste tegnologie in gewasmonitering. Inspeksies kan vinniger en akkuraat oor ‘n groter area gedoen word en bestuursones uitgewys word. Die data wat verkry word, word geberg en geinterpreteer en die sagteware gebruik kunsmatige intelligensie om kennis oor siektes en plae te verbreed en dan weer aan te wend.

Die gebruik van hommeltuie (drones) kan ingespan word om inspeksies vinniger en oor ‘n groter area te doen, bestuursones uit te wys, en die data wat van die hommeltuig verkry word kan gebruik word om verwagte opbrengsberekeninge te maak om bemarkingsbesluite te ondersteun.

FASE 6

Oes

Die oes van graan is ‘n meganiese praktyk, maar nie sonder risiko’s nie. Dis belangrik om die graan te oes wanneer die plant optimaal gereed is. Die produsent poog ook om verlies van produk tydens die oes proses te beperk (bv mieliekoppe wat beskadig word as die stroper tande nie in die rye beweeg nie). Lang ure in stropers om die graan betyds van die land te kry  eis ook sy tol. Die aanwending van tegnologie (NDVI-beelde) en kundige interpretasie daarvan het die akkuraatheid van oesskattings na ‘n nuwe vlak geneem. Dieselfde data dra ook by daartoe om die beste tyd vir oes te bepaal volgens die gewas se groeistadium en voginhoud.

Die tegnologie in stropers is so verbeter dat selfaangedrewe masjienerie die uitputting tydens oes verminder en dit moontlik maak om vir langer ure te oes.

Verliese tydens die oesproses word beperk deur sensors aan die stroperkop wat self die stroper stuur tussen die rye deur (ongeag of dit reguit is al dan nie).

Monitors in  stropers is geen nuwe toetreder tot landbou nie. Tegnologie maak dit moontlik om ‘real time’ tydens die oes data in te samel, aan te teken en lande se opbrengste te karteer vir ontleding en toekomstige beplanning.

 

FASE 7

Hantering en opberging van graan

Graanopberging hou potensieel hoë risiko in deurdag graan kwaliteit tydens opberging kan afneem. Hierteenoor hou graanopberging ook groot geleentheid in vir die opgradering van graan kwaliteit deur droging, vermenging en skoonmaak prosesse. Tegnologie maak die hantering en stoor van graan makliker deur gevorderde maniere om akkurate volumes te bepaal sowel as presiese kwaliteitskontrole tydens opberging.

Tegnologie in silo-opberging het ook groot geleentheid geskep vir graan opgradering en die gepaardgaande groei in inkomste potensiaal.

 

 

Die  implementering van AgTech bied eindelose geleentheid aan die boer, maar is ‘n proses wat met sorg hanteer moet word. ‘n Paar voorstelle om nie onkant gevang te word nie:

  • Lees en praat daaroor met mede-boere en SENWES kundiges.
  • Neem aktief deel aan demonstrasie en inligtingdae wat handel oor tegnologie in landbou.
  • Besoek boere of projekte waar die tegnologie reeds geimplementeer is en maak seker u verstaan die aanwending daarvan voor investering.
  • Moenie dink u gaan voor kom en voor bly nie. Die veranderinge is net te veel en gedurig. Begin by tegnologie wat relevant is tot u boerdery, eerder as om al die tegnologie op die mark te probeer oorweeg en te bekom.
  • Oorweeg elke belegging in tegnologie teenoor die verwagte opbrengs daarvan. Win soveel moontlik inligting in.
  • Identifiseer vaardighede wat kort skiet op die plaas en doen kursusse of opleiding om dit aan te spreek.

AGTech is nie iets wat kom nie, dis reeds met ons. Al wat u moet doen is om te kies hoe u hierop wil reageer. Is u Oupa Piet wat dit verwens en terugverlang na die verlede; of Pa Jaco wat in verwondering staan oor wat dit u kan bied, maar nie seker is hoe om aksie te neem nie. Of is u klein JJ wat weet niks is meer onmoontlik met tegnologie nie en die geleentheid aktief aangryp om deel daarvan te word?

Outeurs: Yolandi Kruger en Emmie Pietersen
Oktober 2019