Latest News

5 Jun 2018

Wie sit aan jou tafel?

Outeur:Yolandi Kruger
Deeltydse Lektor Peritum Agri Instituut

Daar is ‘n bekende gesegde wat lui dat ‘n ketting is net so sterk soos sy swakste skakel en in boerdery is dit verseker ook so. Jou boerdery kan oor die beste veld en diere-genetika beskik, pryse kan bogemiddeld wees en op ‘n tegniese front is jul aan die voorpunt, maar iets soos ‘n gebrek aan gesonde besigheidstrukture of opvolgbeplanning kan in ‘n oogwink die boerdery se volhoubaarheid kelder.

Om ‘n suksesvolle boerdery te bestuur vereis dat ‘n klomp fasette van die boerdery soos ‘n goed geoliede masjien saamwerk, en wanneer dit gebeur is dit een groot plesier. In die meeste boerderye is die boer die eienaar, bestuurder en sleutelman in die besigheid, daarmee saam vervul hy die rol van ‘n wetenskaplike, menslike hulpbronbestuurder, regskenner, bemarker, opleier, plant- en dierkundige, veearts, navorser, en nog vele meer.

Die laaste dekade het die landbousektor baie verander en het die kompleksiteit van boerderybesighede geweldig toegeneem. Jy kan nie slegs al die verskillende hoede dra nie, jy moet by die beste deskundiges in elke afdeling kers vashou. Hoe moet die bestuur van ‘n moderne boerdery dus lyk en wie moet om die bestuurstafel sit?

Hoe lyk die plaasbestuurder van die toekoms?

Die tipiese plaasbestuur van die toekoms moet oor die volgende vaardighede beskik om ‘n boerdery die nuwe era in te lei:

Bestuur innovasie en verandering Om by ‘n veranderende omgewing aan te pas, moet die bestuur vinnig kan aanpas by nuwe praktyke, veranderende verbruikersvoorkeure en is strategiese beplanning baie belangrik.
Bestuurrisiko Boerdery is ‘n hoë-risiko besigheid en bestuurders moet gemaklik raak om risiko’s te antisipeer, ontleed en bestuur soos dit voorkom. Risikobestuur kom neer op besluitneming in onseker omstandighede. Hoe gemaklik is jy met besluitneming en op watter inligting word dit baseer?
Ontwerp effektiewe organisasies Soos wat besigheidstrukture van boerderye verander, moet die bestuur gedurig planne maak om ‘n balans tussen arbeid en die gebruik van tegnologie te vind en seker maak die boerdery se strukture bly relevant.
Bestuur menslike hulpbronne In die meeste boerderye is arbeid een van die grootste uitgawe-items en is die bestuur van effektiewe spanne van kardinale belang. Dié rol sluit nie net plaasarbeid in nie, maar die bestuur van verhoudings met verskaffers, afnemers en ander rolspelers in die landbou.

 

Ongelukkig kan ‘n produsent nie meer alleen om die bestuurstafel sit nie en is dit nodig om kundiges in jou besigheid te betrek en saam planne te maak. Moontlike rolspelers kan landboukundiges, makelaars, arbeidskonsultante, prokureurs, landbou-ekonome, bankiers, rekenmeesters en/of finansiële beplanners insluit wat spesialiseer in die verskillende fasette van die besigheid. Dit maak nie saak uit watter persone die span opgemaak word nie, maar eerder watter bydrae elke rolspeler kan lewer en hoeveel waarde hul tot die besigheid byvoeg. Onthou, die boerdery is so sterk soos die swakste skakel. Die geheim is om die swakste skakel in jou besigheid te identifiseer en ‘n plan te bewerkstellig om die skakel te versterk of vervang.

Hoe verbeter ek die swakste skakel?

Daar is verskeie maniere om die swak skakel in die plaasbestuurketting te verbeter:

Identifiseer die rede vir die swak skakel
Is die rede ‘n gebrek aan kennis of ondervinding? Of is dit ‘n verkeerde houding wat die swakheid veroorsaak? Byvoorbeeld die persoon wat vir die bemarking van vee verantwoordelik is, is nie op hoogte van prystendense nie en vee word op die verkeerde tye bemark. Is die persoon oningelig, onkundig of het die persoon ‘n gebrek aan belangstelling in hy/sy verantwoordelikheid?
‘n Ander voorbeeld kan ‘n gebrek aan ‘n opvolgplan wees omrede die pa nie weet hoe om die gesprekke te inisieer of die proses aan die gang te sit nie en die seun het nie die vrymoedigheid om die pa te konfronteer nie. Rolle is nie duidelik uiteengesit nie en almal weet nie altyd wat van hul verwag word nie.
Daar kan baie verskillende redes wees waarom ‘n afdeling binne ‘n boerdery nie presteer nie. Dit is noodsaaklik om die rede te identifiseer en daaraan aandag te gee.

Besluit of die swak skakel verbeter of vervang moet word
Die meeste bestuursvaardighede kan aangeleer word. Dit hang af of die persoon gewillig en bereid is om nuwe vaardighede aan te leer en kennis op te doen. Nuwe vaardighede kan op verskillende maniere aangeleer word, byvoorbeeld:

  • Doen ‘n kort kursus oor die spesifieke onderwerp byvoorbeeld oor genetika, weiding, finansiële bestuur, bemarking of belasting.
  • Ondergaan formele opleiding in ‘n spesifieke veld bv diploma in veeproduksie, bestuursgraad, aanlynkursusse, ens.
  • Sluit aan by ‘n studiegroep (fisies of virtueel) wat die uitdagings navors en oplossing soek.
  • Doen jou eie navorsing oor die onderwerp om op hoogte te kom en te bly.

In sommige gevalle vereis die aanleer van nuwe vaardighede baie tyd of spesialisering. In sò geval is dit nodig om eksterne kundiges te betrek. ‘n Paar wenke wanneer eksterne rolspelers betrek word:

  • Het die besigheid/persoon ‘n goeie naam in die bedryf;
  • Beskik hul oor die regte kwalifikasies om die advies te kan gee;
  • Is hul op hoogte van die nuutste tendense in die betrokke bedryf; en
  • Verstaan hul die kern van jou, die produsent, se behoefte en is hul bereid om die ekstra myl te loop wanneer dit nodig is?

Neem die tyd en besin oor wie aan jou boerdery se bestuurstafel sit, hoe dit verbeter kan word om die boerdery kompeterend en relevant te hou en of dié span die wa deur die drif sal trek in uitdagende tye.

Skryf nou in vir die Diploma in Diere of Plantproduksie aan die PERITUM AGRI INSTITUUT

Hierdie unieke diploma word nou deeltyds aangebied deur 12 studieweke oor ‘n 24 maande periode en word onderskryf deur die Nasionale Rooivleisprodusente Organisasie.
Die kwalifikasie sluit die volgende modules in: Plaasbestuur-en strategie, Agri Markte en Bemarking, Personeelbestuur, Finansielebestuur, Infrastruktuur, hulpbron en tegnologie; Veeproduksie of Graanproduksie (5 studieweke).

‘n Omvattende praktiese program word gevolg met produksiepraktykblootstelling in elke module. Toelating aan studente wat die Nasionale Senior SErtifikaat (matriek) verwerf het.
Engelse en Afrikaanse innames afsonderlik.
Kontak vir Odette Shepperson 051-4511120 of epos marketing@peritumagri.com